Die Christelike Gereformeerde Kerk is 'n Suid-Afrikaanse, evangeliese kerk. Ons is daartoe verbind om 'n kerk te wees soos wat Jesus dit wou gehad het en om die Here in ons gemeenskappe te dien. Ons lewe vir God se missie om die evangelie, in al sy aspekte, na die hele wêreld te neem. Ons gemeentes is oor die land versprei en verteenwoordig die diverse Suid-Afrikaanse kultuur. Ons eredienste is informeel en verwelkomend, meestal in Afrikaans. Sluit gerus by ons aan!
Ons missie is soos volg geformuleer:
Die Christelike Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is ’n evangeliese kerk, in herlewing gebore, geroep om deur die krag van die Heilige Gees profeties-helend die Woord van God te bedien deur:
Die blye boodskap van Christus se verlossing aan die mens te verkondig,
gemeentes as tuistes vir toerusting, bediening en feesviering te vestig tot geestelike opbou van die gelowiges,
ons gemeenskappe uit gebondenheid, seer en armoede tot vryheid, genesing en hoop te lei.
Hiertoe is ons formeel georganiseer om die kerk doeltreffend te bestuur in die uitvoering van sy roeping, terwyl ons sensitief bly vir die vernuwende werking van die Heilige Gees.
Waar kom ons vandaan?
Die Christelike Gereformeerde Kerk het in 1944 in Durban ontstaan. Na 'n herlewing in die NGK Durban het Dr. DJJ de Vos, die plaaslike leraar, 'n kerk gestig wat die CGK geword het. Die kerk is gereformeerd in sy belydenis en evangelies in sy lewe. Elke mens moet immers redding vind in Jesus Christus.
Wat glo ons?
Die kerk se lering word uiteengesit in die klassieke gereformeerde belydenisse, bv. die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerrede, die Westminster Konfessie en die 39 Artikels. Alle belydenisse bly natuurlik onderhewig aan God se Woord, wat die hoogste gids en gesag bly. Die gereformeerde benadering beklemtoon God se inisiatief en soewereiniteit in ons lewens.